November 2011 – Nylstroom Kersboom

Ons gee graag terugvoer oor die Kersboom projek te Nylstroom. Die Kersboom was die eerste van vele soortgelyke projekte wat Bikers 4 Kids aangepak het en dit op ‘n dag wat slegs een keer in ‘n eeu sal verskyn (11-11-11).

Die Bikers 4 Kids span het uit ‘n groep van 19 engele bestaan wat bereid was om hul Vrydag af te staan om ‘n groep behoeftige kinders van Nylstroom se harte bly te maak.

Klub Helpmekaar005

Met aankoms in Nylstroom tref ons die hitte golf maar word ons met ope arms ontvang deur Hannelie Vosloo van Klub Helpmekaar en hulle bederf ons met verversings en ietsie kouds om te drink.

Die span spring vinnig aan die werk en pak die geskenke en lekkergoed pakkies uit, slaan kersboom op, in afwagting van die eregaste (150 kindergesiggies). Dit gaan vinnig want almal sit ‘n handjie by.

Rion Pretorius het ‘n kort maar kragtige boodskappie vir die kinders gehad van hoe spesiaal hulle is. Tydens die program is daar selfs 2 BMW motorfietse opgeveil waarna die gelde aan Klub Helpmekaar geskenk is.

AMA Promotions het die klank toerusting voorsien vir Etiene de Koker wat bereid was om die kinders en ouers te kom vermaak. En watter talentvolle jong man is dit nie!! Hy het die ouers en kinders op hulle voete gehad met sy optrede. Daar was ook pryse gewen wat deur AMA Promotions geborg was. Baie dankie hiervoor.

Klub Helpmekaar001

Kersvader het so net na 15:00 in die bloedige hitte van die Limpopo gearriveer in sy volledige uitrusting en die kids was opgewonde oor hulle geskenkies. Party van die kids het hulle vergaap aan kersvader en ander het met oë vol trane hulle geskenkies by kersvader gaan afhaal. Daar was egter een dogtertjie wat geweier het om haar geskenkie by kersvader te gaan afhaal, nie te min het sy steeds haar geskenkie ontvang. Onder die geskenke was teddie bere, teestelle, karretjies, inkleure boeke met kryte, bord speletjies, visstokke, roompies vir die dogtertjies en rugbyballe vir die tiener seuns.

Elkeen van daardie kids is daar weg met ‘n geskenkie onder die arm en ‘n glimlag op hul gesiggies.

Bikers 4 Kids span het verseker ‘n suksesvolle kersboom in Nylstroom gehad en ons doel is vir die projek bereik.